Bosveld-interhoër 2024

Advertensie.

Hansies aan stuur van 60ste interhoër

Rinus de Jager, skoolhoof van Hoërskool Hans Strijdom.

Dit is vir Hoërskool Hans Strijdom ’n groot voorreg om u te verwelkom by die 60ste Bosveld-interhoër.

Ten einde ’n byeenkoms aan te bied wat eer sal bring aan die ryke tradisie van die Bosveld-interhoër moes ons staat maak op ondersteuning van die gemeenskap. Die oop hand wat ons gekry het, vul ons met nederige dankbaarheid. Aan elke borg en ondersteuner wat gehelp het, ons opregte dank. Erkenning aan elkeen word gegee op die borgelys wat in die program verskyn.

’n Baie spesiale woord van dank aan die reëlingskomitee, en in besonder Lebu van Heerden en Lizel Swart. Die samewerking en strewe na ’n spogproduk, was ’n voorreg om te aanskou en deel van te wees. Die woorde van Vince Lombardi beskryf dit die beste:

“Ek kan dinge doen wat jy nie kan doen nie, jy kan dinge doen wat ek nie kan doen nie, saam kan ons groot dinge doen”.

Aan elke atleet, sanger en toeskouer wat vandag hier is – geniet elke oomblik. Drink die atmosfeer in en waardeer dit wat ons het. Neem deel, wen of verloor, en weet dat alles wat ons het ’n gawe uit die Skepper se hand is.

Mag ons vriendskapsbande na hierdie dag baie sterker wees en dat ons in jare wat kom met genoegdoening terug dink aan die 60ste Bosveld-interhoër.

Ek laat u met die volgende gedagte:

“Moet nooit vergeet hoe gesond jy is nie, moet nooit ophou om te waardeer wat jy het nie en moet nooit iets vanselfsprekend aanvaar nie. Alles is net genade van Bo”.

Geniet die dag. Rinus de Jager, skoolhoof Hoërskool Hans Strijdom.

Warries vreesloos op baan en veld

Kaylo Humphreys.

Die opgewondenheid is tasbaar en die jong stemme weergalm op Hoërskool Warmbad se atletiekbaan en pawiljoen – dit is amper tyd vir die jaarlikse interhoëratletiekbyeenkoms! Die geleentheid vind plaas op Saterdag 24 Februarie by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong.

Pule Seboloa en Mustafa Mokwena.

Die Warries, soos die wolwetrop trots genoem word, is vreesloos.

“Ons atlete het die afgelope maande met toewyding hard gewerk in hul voorbereiding vir hierdie groot dag. Elke atleet het met selfdissipline en deursettingsvermoë hulself gedruk om hul volle potensiaal te ontgin, het Louis Cilliers, skoolhoof, gesê.

Soos ons skool se leuse met reg sê: Volhard.

Mustafa Mokwena.

Warrie-atlete wat die rekords kan laat spat, is Pule Sebolao (seuns o.19 verspring, 110 mH en 400 m), Lethabo Simango (seuns o.19 110 mH, 1500 m en 3000 m).

Hierdie twee atlete het hul fondasie vir die uitbou van hul sporttalente by wyle Van Reenen Cloete (atletiekafrigter) geleer en sê dat hul prestasies aan hom toegeskryf kan word.

Rorisang Rachidumela, Amelia Neveling en Valerie Monulu.
Advertensie.

Nylies vuur en vlam vir ’n wen

Hul spykerskoene is ingetrap, hul spiere gestrek. Die adrenalien bruis in hul are. Die atlete van Hoërskool Nylstroom is reg vir die groot stryd wat voorlê om die kroon as beste atletiekspan in die Bosveld te dra!

Kgethego Matlou.

Atlete wat toeskouers gerus kan dophou op Saterdag, 24 Februarie is: Mieke Mienie (meisies o.17 100 m, 200 m en verspring). Mieke, wat reeds verskeie rekords verbeter het, het vanjaar gedurende die interhuis-byeenkoms die rekordboek herskryf met ’n sprong van 5,3 m.

Tiaan Steffen.

Amy-jane de Villiers (meisies o.16, spiesgooi en 400 m-hekkies) het die spiesgooi-rekord tydens die interhuis verbeter met ’n gooi van 33,97 m.

Mieke Mienie.

Tiaan Steffen (seuns o.17, gewigstoot en diskus) verbeter die gewigstootrekord by die interhuis met ’n allemintige gooi van 15,87 m.

Danelle Roos.

Danelle Roos (meisies o.14, 100 m, 200 m en hoogspring), Jessica Putter (meisies o.16, 1500 m en 3000 m), Tehilah Feldman (meisies o.16 200 m en 400 m), Kgethego Matlou (seuns o.16 800 m en 1500 m), Shalom Molelekwa (seuns o.17 110 m-hekkies en 400 m-hekkies), Amogetswe Modimolla (seuns o.15, 800 m en 1500 m) en Pieter van Heerden (seuns o.19, hoogspring en 200 m).

Jessica Putter.
Tehilah Feldman.
Advertensie.

Hansie-atlete gerat vir vuurwarm aksie

Cara Louw.

Bosveld-interhoër is altyd spesiaal, maar dit is elke sewende jaar meer spesiaal as jou skool as gasheer moet optree vir die Bosveld-bond.

Marcus van der Walt.

Vanjaar val die eer Hoërskool Hans Strijdom te beurt. Die 60ste Bosveld-interhoër gaan een van die bestes ooit wees en die Leeus van die Noorde is reg om hul brul duidelik te laat hoor.

Elandi van Staden.

Die sangers, atlete, dirigente en die gemeenskap is gereed om ons vriende te verwelkom. Die kompetisie gaan fel wees, maar getrou aan die tradisie van die Bosveld sal die wedywering op die baan in ’n goeie gees plaasvind.

Eduan Steyn.

Dit gaan ’n ongelooflike belewenis wees. Geniet dit, bou nuwe vriendskapsbande, versterk ou verhoudinge en mag sport seëvier.

Die Hansies het in 2024 reeds verskeie hoogtepunte op die atletiekbaan opgelewer.

Van die atlete het individuele toekennings by van die byeenkomste ontvang.

Hou gerus die volgende Hansie-atlete dop:

• Cara Louw (meisies o.19) Derde op die 2023 SA-ranglys vir spiesgooi.
• Marcus van der Walt (seuns o.19) Limpopospan na SA-kampioenskap.
• Janneman Benson (seuns o.15) Vierde op die 2023 SA-ranglys vir skyfwerp.
• Pieter Harmse (seuns o.19)
• Eduan Steyn (seuns o.15)
• Elandi van Staden (meisies o.16)

Advertensie.

Ben Viljoen se Bosveld-blitse tree aan!

Hoërskool Ben Viljoen is vir die afgelope 77 jaar sinoniem met die mooi Bosveld-omgewing van Groblersdal, wat deel vorm van die Loskopvallei.

Die skool sien uit na die Bosveld-interhoër – ’n mooi tradisie wat reeds vir die afgelope sestig jaar plaasvind en elke jaar na hoër hoogtes reik.

Jaco van der Westhuizen.

Dit is ook ‘n jaarlikse hoogtepunt op die skoolkalender, want dit is meer as net ’n atletiekbyeenkoms, dit is ’n belewenis!

Edunette Kriel.

Emma-Lee van der Westhuyzen (o.14) verwerf vroeg in die atletiekseisoen 878 ASA-punte vir haar 100 m. Sy het die 100 m-rekord van 12:60s, wat in 1992 deur haar ma Cornelda (toe Pretorius) by die skool opgestel is, by vanjaar se huissport-byeenkoms ge-ewenaar!

Sy het ook die 200 m-rekord, wat sedert 1980 staan, gebreek.

Emma-Lee van der Westhuyzen.

Edunette Kriel (o.15) kan gerus dopgehou word in die 90 m-hekkies waarin sy vanjaar alreeds 912 ASA-punte verwerf het.

Omphile Tshikane.

Op die veld is Marnu Hancke (o.15) besig om in Johan Helberg (o.16) se voetspore te volg in die diskus, waar hy alreeds vanjaar 946 ASA-punte verwerf het.

Marnu Hancke.

Vanessa Da Silva (o.19) is ‘n besonderse atleet om dop te hou in die 1500 m en 3000 m.

As ons praat van veelsydig, dan dink ons aan Kyra Hancke (o.17) wat nie net uitblink op die baan nie, maar ook op die veld. Hou gerus vir Kyra dop in die diskus, gewigstoot en 100 m-hekkies.

Vanessa Da Silva.

Jaco van der Westhuyzen (o.16) hardloop aanskoulike naelope en alle oë sal op die jong, nuwe Bosveld Blits wees wanneer hy aantree vir die 100 en 200 m -items.

Jaco was verlede jaar beide die 100 m en 200 m Suid-Afrikaanse kampioen in ’n hoër ouderdomsgroep.

Die van der Westhuyzens is ’n familie van spoed, en ouer sussie, Ellené (o.17), kan dopgehou word waar sy blits in die 100 m en 200 m-items, nes haar jonger sibbe.

Ander atlete om dop te hou:

Kadmiel Lotika (o.17, 400 m), Mea-Né Hancke (o.14 gewigstoot), Liliana Janse van Rensburg (o.14, spiesgooi), Tiaan Scheepers (o.17, diskus), Omphile Tshikane (o.17, 1500 m en 3000 m), Leané Janse van Rensburg (o.19, diskus en gewigstoot), Mihlali Ntlebi (o.19, 110 m-hekkies) en Mondray Arendse (o.14, 100 m en 200 m).

Advertensie.

Frikkies slyp hul tande vir die beker

Elke atleet van Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi streef daarna om hul skool nommer een op die baan én veld te maak tydens vanjaar se interhoër-byeenkoms. Hulle het die afgelope twee jaar hard gewerk om hierdie doelwit te bereik – en toewyding en deursettingsvermoë is die eienskappe van ’n ware Frikkie-atleet.

HJ Koekemoer.

Daar is ’n hele aantal atlete wat atletiek-entoesiaste vanjaar kan dophou wat reeds 800 ASA-punte of meer op hul kerfstokke het.

Esmarie Pienaar.

By die hoogspring kan hulle uitkyk vir Esmarie Pienaar (meisies o.16), Annabelle Huysamen (meisies o.14), Keanu Visser (seuns 0.17), Ruan van Deventer (seuns o.17) sowel as Marco Genis (seuns o.14) wat die seisoen reeds besondere prestasies behaal het.

Lyande Koekemoer (meisies o.15) en Oscar Mhlanga (seuns o.15) is veelsydige atlete wat presteer in hekkies en hoogspring.

Lyande Koekemoer.
Oscar Mhlanga.

HJ Koekemoer (seuns o.16) is ’n talentvolle senior atleet op die baan en veld, en het in al sy items meer as 800 ASA-punte behaal.

By die gewigstoot kan toeskouers uitkyk vir Anrich Fourie (seuns o.16) en Micka Röhrs (meisies o.14) wat puik presteer.

Anrich Fourie.

Die diskusgooiers wat die skare laat koes is Lourens Pieterse (seuns o.17) wat meer as 900 ASA-punte op die veld behaal het met gewigstoot en diskus. Mare Pieterse (seuns o.16) blink uit in diskus sowel as spiesgooi.

Lourens Pieterse.
Advertensie.
Advertensie.

Interhoër ’n groot voorreg, sê HPP

Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se sangers en atlete is vuur en vlam vir die interhoër en kan nie wag vir die skote om te klap nie!

“Dit is vir ons ’n groot voorreg om deel te wees van die sestigste Bosveld-Interhoër en ons is opgewonde oor die dag wat voorlê,” sê Ruan Potgieter, atletiek-organiseerder van HPP.

“Ons atlete is lank reeds hard aan die werk ter voorbereiding van die groot dag.”

Bernice Erasmus.

Hoërskool Piet Potgieter bedank elkeen vir hul ondersteuning en nooi elke ouer en ondersteuner hartlik uit om hierdie dag saam met hulle te spandeer.

Hlangi Masingi.

“Baie sterkte aan elke atleet wat gaan deelneem. Julle almal is kosbaar en in ons harte! Onthou om Hoërskool Piet Potgieter se naam hoog te hou en laat die vonke spat.”

Elrike van der Merwe.

Die volgende atlete is vanjaar uitblinkers op die atletiekbaan en kan gerus tydens die byeenkoms dopgehou word vir uithaler-atletiek:

Elrike van der Merwe (meisies o.17, 100 m-hekkies, 200 m en 400 m), Hlangi Masingi (seuns o.15, 100 m en 200 m), Madimetja Seema (seuns o.15, hoogspring, verspring en 1500 m), Bernice Erasmus (meisies o.19, 400 m-hekkies, 400 m en 800 m), Lin-Mari Kriel (meisies o.15 spiesgooi), Jon-Paul van der Nest (seuns o.14 100 m-hekkies, 300 m-hekkies en 400 m).

Jon Paul van der Nest.
Madimetja Seema.
Lin-Mari Kriel.
Advertensie.

Merke, gereed... Ellisras!

Die atlete van Hoërskool Ellisras slyp hul tande vir vanjaar se byeenkoms. Hulle het die afgelope vier jaar as wenners weggestap en is reg om vir die vyfde keer as Bosveld Bond-atletiekkonings gekroon te word.

Verlede jaar se puntetelling het opslae gemaak omdat Ellisras die ander skole met ’n baie groot punteverskil gewen het.

Die nuwe gr. 8-leerders het hul staal vanjaar by atletiekbyeenkomste gewys en is reg om hul bydrae te lewer. Die ouer atlete is topfiks en is in die wegspringblokke om die ander skole aan te durf.

Michaela Venter.

Toeskouers kan gerus die volgende atlete, wat vanjaar rekords tydens die interhuis gebreek het, dophou vir uitmuntende atletiek: Lourens Erasmus (diskus), Luhan Drotskie (diskus), Mikayla Bester (naellope), Tenyeko Nkuna (hekkies), Michaela Venter (spiesgooi), Jade du Toit (diskus) en Emelia Higgo (naellope).

Luhan Drotskie.

Almal weet die interhoër is meer as net gehalte-atletiek. Die skool se sangspan gaan in groot getalle opdaag. As hul oefensessies ’n aanduiding is, kan toeskouers groot entoesiasme en volume verwag! Die dirigente se danspassies gaan beslis die skare vasgenael hou – hoogtes gaan letterlik én figuurlik bereik word tydens die opkoms!

Tenyeko Nkuna.

Die sangers gaan bankvas agter die atlete wees en daar gaan beslis nie ’n tekort aan aanmoediging wees nie.

Hoërskool Ellisras is nie net hier om te wen nie… hulle is hier om oor te neem.

Mikayla Bester.
Back to top button