Observer Daller

Wees versigtig: Slaggate ná die reën!

Motoriste word gemaan om versigtig te ry met slaggate wat oral te sien is na die erge reën.

Die welkome, maar geweldige baie reën wat die afgelope paar dae in die Vallei geval het, het sy tol geëis op ons paaie.

Buiten slaggate wat reeds oral te sien is, het daar talle nuwe gate gevorm.

Daar is reeds verskeie waarskuwings op die Limpopo Traffic Allert WhatsApp groep geplaas deur padverbruikers oor die groot hoeveelheid slagate wat deur die reën gevorm is op die N11 (Schoemanpad) tussen Groblersdal en Marble Hall.

Die waarskuwing lui dat voertuie geneig is om in aankomende verkeer in te swaai in ’n poging om die slaggate te mis.

Volgens Flip Jacobs, wykraadslid, is die ergste slaggate by die vierrigting oorkant Super Oil Mills. “Talle motoriste het al baie skade aan hul voertuie gehad weens die slaggate hier.”

Hy sê ook dat die R25 (Vaalfonteinpad) vanaf Marble Hall na Groblersdal “vrot en lelik” is van al die slaggate.

Dries Prinsloo, VF+ raadslid, waarsku padverbruikers oor die R573 (Siyabuswapad) en om versigtig te wees, aangesien hierdie pad vol slaggate is.

Hy sê egter dat die groot slaggate op die N11 vanaf Marble Hall na Roedtan opgevul is, maar weer besig is om te versleg weens die baie reën. “Gelukkig is SANRAL in die proses om ’n projek te loods op dié pad op te knap.”

“Al hierdie paaie se agteruitgang is omdat dit nie ’n jaarlikse ‘slurry’-laag gekry het nie. Die paaie en infrastruktuur word uiters swak bestuur en onderhou,” sê Prinsloo.

In Groblersdal is daar ook verskeie klagtes ontvang oor slaggate in Chris Wiid-, Voortrekker-, Haarhoff-, Eind- en Nywerheidstraat, asook ’n paar van die bokstrate.

Slaggate in Chris Wiidstraat in Groblersdal. Foto: Janine Saayman.

Op die N11 vanaf Voortrekkerstraat verby Hoërskool Ben Viljoen, regdeur die N11 tot voor Loskopdam, is daar verskeie slaggate waaroor motoriste ook kla.

Slaggate naby Hoërskool Ben Viljoen en die Loskop Gimnasium in Voortrekkerstraat.

Hierdie slaggate is kort voor die reënbuie opgevul, maar is die teermengsel nie behoorlik vasgestamp nie, wat nou veroorsaak dat losklippe deur ander voertuie en vragmotors opgeskiet word en voorruite laat kraak.

Slaggate op die N11 buite Groblersdal na Loskopdam. Hierdie foto is geneem naby Welgevonden.

SANRAL het reeds aan die Daller bevestig dat hul tans in die proses is om ’n projek te loods vir die opknapping van die N11 tussen Groblersdal en Loskopdam. Wanneer hierdie projek gaan begin, is egter nog nie bevestig nie.

Groot slaggate op die R33 wat strek vanaf die Groblersdal Mall tot net voor Stoffberg, is ook ’n geweldige seeroog met diep slaggate op die pad.

Een van die waarskuwings wat ontvang is, is vir ’n slaggat net ná die Motetema-afdraai op die R33 voor die Bloedrivierbrug.

Die yslike slaggat naby die Bloedrivierbrug op die R33 vanaf Groblersdal na Stoffberg.

Volgens Willie Oosthuizen, wykraadslid, is die grootste probleem dat die munisipaliteit nie jurisdiksie het oor die R33 of N11 paaie nie. “Hierdie paaie is die verantwoordelikheid van RAL en SANRAL en mag die munisipaliteit nie enige werke op hierdie paaie verrig sonder hierdie instansies se goedkeuring nie. Wanneer en of hierdie slaggate herstel gaan word deur hierdie instansies is altyd ’n ope vraag.”

Slaggate in Haarhoffstraat in Groblersdal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button